Oorsig van Stellenbosch se Begraafplase

Alhoewel daar min direkte gedokumenteerde getuienis is, kan aanvaar word dat Stellenbosch se eerste begraafplaas geleŽ was rondom die eerste kerkie (1687 tot 1710) op die straatblok wat tans omgrens word deur Kerkstraat, Van Ryneveldstraat, Pleinstraat, en Andringastraat.

Daar is in 1687 'n plakkaat uitgevaardig1 wat teraardebestellings buite formele begraafplase verbied het. Dit sou beteken dat alle vroeŽ grafte op Stellenbosch rondom (of in) hierdie kerkie geleŽ moes gewees het.

In 1717 is besluit dat die kerk nie op hierdie terrein herbou sou word nie, maar op die huidige terrein aan die bopunt van Kerkstraat. Die eerste graf op hierdie terrein was waarskynlik die herbegrafnis van oud-landdros Mulder se vrou2.

Grafkelders van, Borcherds, Herold en Van der Spuy aan die noordelike agterkant van die Moederkerk3.

Oorblywende grafkelders aan die suidelike voorkant van die Moederkerk3.

Vanaf 1723, toe die tweede kerk ingewy is, is daar benewens in grafte in die kerkhof rondom die kerk, ook binne die kerk mense begrawe. Die laaste hiervan was 'n kind van Johannes Wege in 18104. Die grafkelders op die kerkterrein verskyn vanaf 18015.

Die meer volledige grafrekords vanaf 17656 toon aan dat begrafnisse op plase toe reeds algemeen was.

Die beperkte ruimte in die kerkhof om die kerk het die kerkraad gedwing om in 1849 'n nuwe begraafplaas "in die Vlakte" aan die noordepunt van Andringastraat in gebruik te neem7.

Weens onbekende redes het hierdie "Nieuwe Kerkhof", waarin ook 25 grafkelders aan die noordemuur ingerig is, nie algemeen byval gevind nie. Reeds in 1859 is by Papegaaiberg (ook bekend as Steenenbrug) begrawe. Die gevolg was dat vir 'n periode drie begraafplase in Stellenbosch gelyktydig in gebruik was. Die laaste begrafnis by die kerk was waarskynlik in 1904.

 

 'n Vergrote deel van die Murison-panorama van Stellenbosch van 1899.
Dit is een van die enkele oorblywende bewysstukke vir die bestaan van
die Vlakte-begraafplaas. Die ringmuur van 1390 voet is hier duidelik te sien.
Die opstal regs voor is Kromrivier met Hammanshand in die middel agter.
(Met vergunning van die Stellenbosse Heemkring)

 

Die "Vlakte-begraafplaas" het mettertyd verwaarloos en vervalle geraak en daar het ook herbegrafnisse plaasgevind na Papegaaiberg. Die toestand van die Vlakte-begraafplaas was nŠ 'n eeu so haglik, dat die Kerkraad van Stellenbosch-Noord, wat in 1955 suksesvol aansoek gedoen het vir die perseel om hul kerk op te rig, beweer het dit herinner aan die "duiwelbesetene van Gadara" 8. Selfs nie 'n enkele grafsteen uit hierdie begraafplaas kon tot dusver opgespoor word nie.

Vanaf ongeveer 1880 het die Kerkraad die gebruik van die begraafplaas Papegaaiberg/Steenenbrug geformaliseer deur met die invoering van die sg. Grootboek9 en die sisteem van familiepersele. Die familiepersele het meegebring dat talle begrafnisse deurentyd nog in die oudste dele van Papegaaiberg plaasgevind het, selfs nadat die Munisipaliteit die beheer van die begraafplaas in 1963 oorgeneem het en tot selfs in die 21ste eeu. Inskrywings in die Grootboek van vůůr 1880 is waarskynlik van herbegrafnisse uit die Vlakte of herinskrywings uit 'n vorige opgaaflys.

Meer inligting is beskikbaar in 'n praatjie wat  mnr Coenie Loubser voor die Stellenbosse Heemkring gelewer het in 1994.

Sedert 1999 is 'n nuwe begraafplaas aan die Strandpad, die Jamestown-begraafplaas, in gebruik.

 

 

 

VERWYSINGS

1. Ad Biewenga, "De Kaap de Goede Hoop", p. 259.

2. A M Hugo & J van der Bijl, "Die Kerk van Stellenbosch" p. 86, oudste grafte.

3. Ibid pp. 93-96.

4. Loc. cit. p. 92.

5. Loc. cit. p. 93.

6. Doderegister

7. Hugo & v d Bijl, op cit. p. 142

8. "Gedenkbrosjure 1953-1963", N G Gemeente Stellenbosch-Noord, p. 20.

9. Grootboek.